Estimated reading time: 7 minutes
Die onvoorspelbare en lang sessies beurtkrag en die uitermatige styging in die dieselprys, het ’n wurggreep op aartappelprodusente. Al die skakels in die waardeketting werk nou saam om, te midde van die uitdagings, die bemarking van aartappels te koördineer om ontwrigtende prysskommelings te versag.
Aartappels SA is die rentmeester van ‘n volhoubare aartappelbedryf en hou gereelde inligtingsdae tydens verskillende produksiefases in die onderskeie streke. Dit bied die geleentheid vir al die betrokkenes in die waardeketting om uitdagings, sowel as voorgestelde oplossings, openlik en sinvol te bespreek.
By hierdie byeenkomste, wat onlangs op Vivo en Tom Burke in Limpopo gehou is, het die voorsitter van Aartappels SA, Willie Jacobs, gesê hoewel die verskillende skakels in die bedryfsketting nie noodwendig dieselfde waarde aan die onderskeie aspekte van die bedryf heg nie, ’n gesonde en volhoubare bedryf tot almal se voordeel is. Daarom is deursigtige, akkurate data noodsaaklik vir goeie koördinasie om te verhoed dat markte toegegooi word en sodoende die prys van die produk negatief raak. Net so kan ondervoorsiening die verkeerde seine aan produsente stuur en derhalwe bemarking ontwrig.
’n boer van Tom Burke, FP Coetzee van Aartappels SA, Louis du Plessis van Swartwater,
Evert de Goede van Evo Fresh, en Gerhard Heinlein van Tom Burke.
Aartappelproduksie floreer
Suid-Afrikaanse aartappelprodusente is van die produktiefste ter wêreld. In die laaste drie dekades het aartappelproduksie in die land verdubbel van 1.3 miljoen ton na 2.6 miljoen ton. Terselfdertyd het die grondoppervlakte onder aartappels van 62 000ha in 1990 tot die huidige 52 355ha gekrimp. Dit beteken dat die produksie/ha van 20 ton/ha na 50 ton/ha gestyg het. Suid-Afrika het dit vermag sonder die substansiële subsidies wat Europese produsente ontvang. Dit is ‘n bewys van die vindingrykheid en veerkragtigheid van die land se produsente wat, ondanks uitdagings, volhoubare oeste produseer.
Beurtkrag se kettingreaksie
Verwerkingsaanlegte se vermoë word ernstig deur beurtkrag geknel. Vervaardigers van bevrore aartappelskyfies is veral swaar getref en tekorte het ontstaan. Die eienaars van die aanlegte het hul kommer teenoor Eskom en hul plaaslike owerhede uitgespreek, aangesien dit ‘n probleem is wat buite die beheer van die bedryf is.
Op plaasvlak het beurtkrag ’n beduidende negatiewe uitwerking op die doeltreffende besproeiing van aartappels. Volgens Aartappels SA lei dit nie net tot ’n laer opbrengs nie, maar beïnvloed ook die gehalte van die aartappels as gevolg van die toename in aartappelmot en misvorming van knolle.
Toonaangewende aartappelprodusente in Limpopo sê beurtkrag en die versengende hitte wat gewoonlik tydens produksietyd ervaar word, het die afgelope paar jaar miljoene rande se skade aan aartappeloeste aangerig.
Diesel-kragopwekkers voorsien krag aan die pakhuise gedurende beurtkrag en dan staan die besproeiingstelsels stil. Produsente se kragrekeninge moet na verwagting dus minder wees, maar dit styg aangesien die besproeiingstelsels piek-hoeveelhede krag gebruik wanneer dit weer aangeskakel word. Met die dieselprys wat die afgelope vier maande al hoe meer gestyg het, ruk die koste om pakskure aan die gang te hou, nou hand uit.
Beurtkrag en duurder diesel raak elke skakel in die aartappelwaardeketting, wat uitloop op hoër pryse vir die eindverbruiker wat self in die knyptang van alledaagse lewenskoste vasgevang is.
Bemarking is belangrik
Te midde van die uitdagings is dit noodsaaklik dat aspekte waaroor die bedryf ’n mate van beheer het, glad moet verloop tot groter voordeel van almal. Aartappels moet so vars as moontlik bemark word. Dit is gewoonlik baie warm wanneer aartappels in Limpopo uitgehaal word. As dit nie so vinnig as moontlik van die land na die verbruiker gebring word nie, kan dit begin sleg word.
Die bemarkingstempo moet egalig verloop. As die mark toegegooi word met aartappels, gaan dit langer duur as die markagente se mikpunt om dit binne twee dae van die markvloer af te kry. As die lewering egter te traag is, kan dit die verkeerde boodskap aan produsente stuur, wat ook die bemarkingstempo kan ontwrig. Die verskillende skakels in die aartappelwaardeketting moet ook nie fyngevoelig wees vir mededinging tussen verskillende deelnemers nie. Die bedryf bestee baie geld om alles vlot te laat verloop.
Die seine wat aan produsente, hanteerders en aartappelverwerkers uitgestuur word, bepaal die waarde van die produk. Die grootste rede waarom pryse dikwels abnormaal fluktueer, is ’n gebrek aan inligting. Die oogmerk is om vinnige, skerp stygings of dalings in die markprys te versag en gelyk te maak.
Produsente besluit dikwels om hul aartappels vinniger uit te haal om die voordeel van hoër gehalte te benut. Dit kan egter teenproduktief wees, omdat ’n buitengewone aanbod die prys skielik skerp kan laat daal.
In die somermaande is Limpopo feitlik die enigste streek wat aartappels bemark. As gevolg van ongewone koue en ryp die afgelope winter, word verwag dat sowat 10% minder aartappels uit die streek sal kom wat sowat sewe miljoen sakkies aartappels minder as die langtermyn gemiddeld is.
Verpakking en sortering
Markagente het op die inligtingsdag gesê daar is kopers wat bereid is om meer te betaal vir goeie, gesonde aartappels van dieselfde klas wat sorgvuldig gesorteer en verpak is. Dit vergemaklik herverpakkers se taak en bied aan kleinhandelaars die geleentheid om aan kieskeurige kopers se behoeftes te voldoen.
Produsente is aangeraai om moeite met hul sortering en verpakking te doen en, waar moontlik, die nuutste sorteringstoerusting te gebruik om vir hulle ’n handelsmerk te vestig wat oor die lang termyn beter pryse op die markte kan beteken. Die beste 50% van die aartappels op markte verskuif maklik, terwyl agente sukkel om die swakker helfte van hul voorraad verkoop te kry.
Meganiese skade maak dit moeilik om hierdie aartappels te verkoop. Produsente moet bepaal waar die skade aangerig word en moeite doen om die probleem reg te stel. Dit wil voorkom asof die probleem meer voorkom waar aartappels in massa hanteer word. Die verskil in waarde per vrag aartappels wat min of baie meganiese skade het, kan van R17 000 tot R35 000 beloop.
Produsente moet hul markte leer ken. Op sekere tye in ’n maand en in ’n jaar is die vraag na aartappels hoër as normaalweg. Dit geld aan die einde van die week en ook aan die einde van die maand wanneer verbruikers hul salarisse ontvang en voorraad aanvul. In November is die vraag na aartappels vir verwerking as droë skyfies gewoonlik groter as in ander maande.
Die mark bepaal die tempo
Die bemarking van aartappels deur kettingwinkels en ander handelaars, is ook meer aggressief teen die einde van die maand. Produsente kan daarby baat vind om dié gegewens in samewerking met hul bemarkingsagente in ag te neem wanneer hulle die tempo waarteen aartappels uitgehaal gaan word, beplan.
Hou ook in gedagte dat verbruikers al hoe meer bewus raak van kospryse en dus meer selektief kos aankoop. Probeer om by al hierdie faktore aan te pas, ten einde die vloei na markte só te beplan, dat daar nie onnodige ooraanbiedings ontstaan nie. Kommunikasie is alles. Al die deelnemers in die waardeketting moet inligting betyds deel om doelgerigte beplanning deur die hele produksie- en bemarkingseisoen te doen om ’n winsgewende, volhoubare bedryf tot voordeel van almal in stand te hou. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Aartappels SA op 012 349 1906 of epos hanrie@potatoes.co.za.