Registreer jou boerdery by die Vergoedingsfonds

Estimated reading time: 4 minutes

Boerderye in Suid-Afrika moet by die Departement van Indiensneming en Arbeid se Vergoedingsfonds geregistreer wees om hul werkers teen werksverwante beserings te dek. Dit beteken die loonrekening moet jaarliks verklaar word, sodat die fonds kan bepaal wat deur die boerdery betaalbaar is.

Voordele van registrasie

  • ‘n Werker kan ‘n boerdery nie dagvaar vir ‘n besering nie, aangesien die Vergoedingsfonds verantwoordelik is vir die betaling van alle uitgawes vir eise wat aanvaar is.
  • Die ‘geen fout’-beginsel geld indien ‘n boerdery by die Vergoedingsfonds geregistreer is. Dit beteken die fonds sal nie ondersoek instel om te bepaal wie verantwoordelik gehou moet word vir die besering nie.

Tans is 941 000 besighede by die Vergoedingsfonds geregistreer. Dit sluit 30 800 boerderye in. In 2023 het hierdie besighede R13.5 miljard aan die Vergoedingsfonds betaal. Die voordele wat in daardie tydperk deur die fonds uitbetaal is, het R4.6 miljard beloop en bestaan uit:

  • Mediese betalings aan dokters en hospitale.
  • Betalings aan werkers wat permanent ongeskik verklaar is weens ‘n besering. Betalings aan families waar ‘n werker gesterf het, asook die begrafnis-onkoste.
  • Die terugbetaling van lone aan produsente wat vergoeding betaal het aan ‘n werker wat afgeboek was.

Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, Wet 130 van 1993 (Coida) is die boerderybedryf in vier subklasse verdeel, elk met ‘n eie tarief wat die produsent aan die Vergoedingsfonds betaal:

Veeboerdery: Hierdie subklas behels hoofsaaklik veeprodusente, skaapskeerders en dipkontrakteurs. Die tarief vir 2024/25 is R2.51 vir elke R100 wat ‘n boerdery in lone betaal.

Grondbewerking en bosbou: Hierdie subklas behels landboubedrywighede waar die produsent hoofsaaklik fokus op bosbou en plantegroei met gepaardgaande ploegwerk. Aartappel- en uieprodusente sal byvoorbeeld in hierdie subklas val. Die 2024/25-tarief is R2.51 vir elke R100 wat ‘n boerdery in lone betaal.

Gemengde boerdery: Boerderye waar met vee geboer word en grondbewerking op ongeveer ‘n gelyke skaal plaasvind, en waar een of meer trekkers of elektriese sae aangewend word, val onder hierdie subklas. Die tarief vir 2024/25 is R1.86 vir elke R100 wat ‘n boerdery in lone betaal.

Suiker- en teeboerdery: Dit behels boerderye wat suikerriet en tee aanplant. Die tarief vir 2024/25 is R0.79 vir elke R100 wat ‘n boerdery in lone betaal.

Soos met enige soort versekering moet ‘n boerdery jaarliks bepaal of die subklas korrek is, aangesien boerdery-aktiwiteite mettertyd verander. Boerderye waarvan die aktiwiteite sou staak, moet aansoek om deregistrasie doen by die Vergoedingsfonds.

Die meeste van die nagenoeg 500 aartappelprodusente in Suid-Afrika maak gebruik van pakhuise waarin aartappels verpak word nadat dit geoes is. Hierdie produsente moet dit oorweeg om ‘n pakhuis as ‘n aparte entiteit te registreer, aangesien pakhuise ‘n laer tarief betaal as ‘n boerdery. Ingevolge Coida word pakhuise in twee subklasse verdeel:

Vrugteverpakking (ook groente): Werksaamhede behels die verpakking, gradering en/of stoor van vars vrugte/groente. Die tarief vir 2024/25 is R0.60 vir elke R100 wat ‘n pakhuis in lone betaal.

Vrugte- en groenteverwerking: Dit sluit in die vervaardiging van konfyt, inlê van vrugte, groente, en kos, insluitend die verpakking en stoor daarvan, asook die vervaardiging van gedroogde kos. Die tarief vir 2024/25 is R0.83 vir elke R100 wat ‘n pakhuis in lone betaal.

‘n Praktiese voorbeeld

‘n Aartappelprodusente het vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Februarie 2024 (die 2023-belastingjaar) lone ten bedrae van R20 miljoen aan al sy werkers betaal. Dit sluit R10 000 vir pakhuiswerkers in. Tabel 1 gee ‘n uiteensetting van hoe die koste van die onderskeie subklasse in hierdie geval sou verskil.

Tabel 1: Voorbeeld van betalings vir verskillende subklasse

Boerderye kan dus derduisende en selfs miljoene rand spaar indien hulle ‘n pakhuis as ‘n aparte entiteit by die Vergoedingsfonds sou registreer. – Stephan Pietersen, Work Accident Support

Vir meer inligting, stuur ‘n epos aan support@workaccident.co.za of skakel die outeur by 064 360 2638.

Posted in ,