Estimated reading time: 6 minutes
Plaagdoders is noodsaaklike insette waarmee aartappelprodusente plae, siektes en onkruide moet bestry. Sonder plaagdoders is dit haas ondenkbaar om die verwagte tonnemaat aartappels te produseer wat deur Suid-Afrikaners benut word, hetsy as vars aartappels of in verwerkte vorm soos kraakskyfies (crisps).
Aartappels is, veral vir kinders, ’n uiters belangrike bron van koolhidrate en desnoods moet daardie voedselbron teen landbouplae, siektes en onkruide beskerm word. Die groot vraag wat al hoe meer na vore kom, is of die voedsel wat ons daagliks nuttig nie vol plaagdoders is nie?
Konsentrasievlakke in voedsel
Die antwoord is eenvoudig dat daar wel residu’s van plaagdoders in alle voedsel voorkom, maar dit is nie noodwendig in konsentrasies wat langtermyn skade aan mense se gesondheid sal rig nie. Twee staatsdepartemente, naamlik die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en die Departement van Gesondheid, het die mandaat om plaagdoderresidu’s in voedsel te reguleer gepubliseer ten einde te verseker dat voedsel veilig is vir mens en dier. Dit is gedoen deur middel van regulasies wat die maksimum residulimiete (MRL) van plaagdoders per gewas bepaal.
Daar is natuurlik die sosiale media ‘spesialiste’ wat gal braak oor plaagdoderresidu’s in voedsel, maar hulle het meestal geen benul van die intense en uitgerekte studies wat gedoen word om te bepaal wat veilige konsentrasies van plaagdoderresidu’s in voedselgewasse is nie.
As die MRL van ’n bekende plaagdoder soos chloorantraniliprool in aartappels in Suid-Afrika byvoorbeeld op 0.05 mg/kg vasgestel is, kan die verbruiker seker wees dat daardie konsentrasie chloorantraniliprool geen risiko vir mense inhou nie. Die MRL is dus die drumpelwaarde waaronder die plaagdoder se konsentrasie vir die verbruiker en produsent gemoedsrus sal gee.
Moniteringstelsels
In Suid-Afrika is daar baie instansies soos voedselverwerkers, varsproduktehandelaars en voedselkleinhandelaars wat hul eie residu-moniteringstelsels bedryf en gereeld vars produkte analiseer of laat analiseer vir die teenwoordigheid van plaagdoderresidu’s. Dit is waar die produsent onkant gevang mag word as ’n hoeveelheid aartappels by ’n verwerker positief vir oorskryding van ’n plaagdoder se MRL toets.
Na só ’n analise kan daar verskeie roetes deur die nuwe eienaar van die aartappels gevolg word:
- Die nuwe eienaar kan al die aartappels verwerp en weier om die produsent te betaal.
- Die aartappels kan in kwarantyn geberg word ten einde die plaagdoder toe te laat om voldoende te metaboliseer of fisies af te breek tot onder die MRL-konsentrasie.
- Die aartappels kan bloot mee weggedoen word en die nuwe eienaar kan skadevergoeding van die produsent eis.
Die vraag is waar produsente inligting oor plaagdoderresidu’s en hul verwante MRL’e in aartappels kan vind? CropLife SA se Agri-Intel databasis bevat omvattende inligting oor meer as 95% van die geregistreerde plaagdoders in Suid-Afrika en onder andere is daar ’n sub-datastel oor MRL’e wat op gewasse soos aartappels van toepassing is.
Daar is ’n reeks MRL’e vir elke plaagdoder wat vir elke gewas geregistreer is, en dit sluit ook uitvoertoleransies na oorsese bestemmings in. Uitvoertoleransie beteken dat die uitvoerbestemming sy eie MRL vasstel waaraan ’n produsent moet voldoen om die gewas na die bestemming te kan uitvoer.
Synde meeste aartappels plaaslik verbruik word, kan produsente dus meestal net op die Suid-Afrikaanse datastel fokus. Die MRL van ’n plaagdoder gaan altyd gepaard met die voor-oesinterval (pre-harvest interval) wat aandui tot op watter groeistadium van die gewas ’n plaagdoder aangewend kan word voor oes, ten einde die oorskryding van die MRL te voorkom. Al die inligting is op www.agri-intel.com beskikbaar. Produsente kan hul eie aartappels by analitiese laboratoriums laat ontleed.
Maatreëls
CropLife SA maan produsente om plaagdoders streng volgens etiketvoorskrifte aan te wend. Daardie voorskrifte is nie aanbevelings nie; dit is wetlike vereistes wat deur die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947) gestel word.
Enige afwyking van die etiketvoorskrifte mag ernstige nagevolge vir die produsent inhou. In die konteks van plaagdoderresidu’s, is die gevaar dat die MRL van ’n aktiewe bestanddeel oorskry mag word, wat die produsent se aartappels onbemarkbaar mag maak.
Produsente moet op die volgende aktiwiteite let wanneer plaagdoders in aartappelproduksie oorweeg word:
- Is die plaagdoder wel vir gebruik op aartappels geregistreer vir die plaag, plantsiekte of onkruid? Indien wel, gaan voort en wend die plaagdoder volgens die etiketvoorskrifte aan. Indien nie, bly weg van die produk want daar is geen rede om te glo dat dit met veiligheid op aartappels aangewend mag word nie.
- Wat is die frekwensie van aanwending? Met ander woorde, hoeveel keer mag die plaagdoder per produksieseisoen aangewend word? Die etiketvoorskrifte sal byvoorbeeld aandui dat slegs twee aanwendings per seisoen gemagtig is. Indien die aantal aanwendings oorskry word, is daar groot risiko vir weerstandsontwikkeling, sowel as oorskryding van die MRL van die plaagdoder. Plaagdoders het altyd ’n goed-vasgestelde afbraakkurwe, maar dit gaan gepaard met die dosis sowel as aantal aanwendings per seisoen. As daar meer as die toegelate aantal aanwendings per seisoen is, dan geld die normale afbraakkurwe nie omdat die hoeveelheid plaagdoder op die gewas meer is as wat die navorsing oor die afbraakkurwe in ag geneem het.
- Die dosis wat toegedien word is ’n baie belangrike faktor in die uitkoms van die residu tydens oes van die gewas. Oormatige dosering (meer as etiketvoorskrifte) veroorsaak noodwendig hoër terminale residu’s van plaagdoders.
- Die voor-oes interval speel ook ’n baie belangrike rol in die terminale residu’s van plaagdoders tydens oes; hoe korter die voor-oes interval, hoe hoër die terminale residu’s van plaagdoders in die gewas.
- Tenkmengsels kan ook ’n rol speel in die afbreek van die plaagdoder se aktiewe bestanddeel. Dit is daarom totaal ongewens om bloot tenkmengsels aan te maak wat nie volgens etiketvoorskrifte aangedui word nie.
Die onmoontlike is wel moontlik
Dit gebeur soms in uitsonderlike gevalle dat produsente plaagdoders streng volgens etiketvoorskrifte op aartappels aanwend en dat daar oorskryding van die MRL’e is. Daar was jare gelede ’n geval met siromasien, ’n insekgroeireguleerder, wat so ’n situasie geskep het.
Navorsing deur registrasiehouers het bewys dat die voorgestelde voor-oes interval te kort was om die gereguleerde MRL te kon bereik en ‘n aansoek is dus ingedien om die MRL opwaarts aan te pas, nadat ’n gesondheidsrisikobepaling deur toksikoloë onderneem is.
Neem self verantwoordelikheid
Aartappelprodusente het die verantwoordelikheid om etikette self te lees en na te volg. Een van die grootste misstappe is om na iemand te luister wat sê: “Kom ons probeer …”. Hierdie raad en aanbevelings is selde op etiketvoorskrifte gegrond en benadeel slegs die produsent. Moet ook nie die raad aanvaar dat een handelsmerkproduk identies aan ’n ander een is nie. Hou by die beginsel dat as die produk nie vir gebruik op aartappels geregistreer is nie, dan is dit nie geldig om op aartappels te gebruik nie, al is daar ’n soortgelyke produk met dieselfde aktiewe bestanddeel wat wel vir aartappels geregistreer is. – dr Gerhard Verdoorn, CropLife SA
Vir enige navrae, kontak dr Gerhard Verdoorn op 082 446 8946 of by gerhard@croplife.co.za.