Só klim Overyssel van die Eskom-rooster af

Estimated reading time: 7 minutes

Overyssel Boerdery het in ’n vasberade poging om die uitdagings wat deur Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiener gestel word die hoof te bied, besluit om een van die grootste onafhanklike, alternatiewe-krag boerderye in die land te word.

Die alternatiewe energieverskaffer, One Stop Energy, beplan om teen einde Mei ’n reuse sonkragplaas op
die Van der Walts se landgoed op te rig. Bowenal het One Stop Energy selfs die finansiering vir dié huurkooptransaksie verkry – ’n internasionale alternatiewe-kragfinansier uit Saoedi- Arabië genaamd Yellow Door Energy.

Overyssel, wat deel van die Waterberg Boerdery-groep vorm, is naby Marken in Limpopo geleë. Peet van der Walt sr en sy drie seuns – Hans, Francois en Peet van der Walt – produseer jaarliks aartappels, botterskorsies, tamaties en uie, wat onder die Waterberg Groente-handelsmerk bemark word. Hulle span ook mielies en sojabone vir wisselbou op 1 500 ha grond in. Die broers haal sowat 22 500 ton aartappels jaarliks van 450 ha af.

Sowat 60% van die aartappels word as varsprodukte bemark, terwyl 40% vir die bevrore-groente mark verwerk word. Aartappels en ander groente word op die plaas gewas, verpak en verwerk. Daarvoor is ’n groot pakhuis, koelkamers en ander toerusting nodig. Dit alles gaan nou deur sonkrag aangedryf word.

(Son)ligging

Die vraag is egter of die boerdery hoë-potensiaal landbougrond vir sonpanele en batterye moet inboet? Die geoormerkte grond is langs Overyssel se stoor geleë en was voorheen die plaas se komposhoop. Die komposhoop is na ’n ander deel van die plaas verskuif. Aangesien ’n groot deel van die Van der Walts se grond nog nie ontwikkel is nie, is die 4.5 ha ’n geringe opoffering, meen hulle.

Hans beskou die posisionering van die sonplaas as strategies, omdat kragopwekking, kantore, stoor- en
pakplek nou bymekaar sal wees.

’n Kragtige plan

“Ons het aanvanklik met hidroelektriese energie geëksperimenteer, aangesien ons op die oewer van die
magtige Palala-rivier boer,” sê Hans. Uiteindelik is besluit om na sonkrag oor te skakel nadat ses sonkragondernemings hulle gekontak het. Die One Stop Energy-span het egter kop en skouers bo die res uitgestaan en Overyssel het besluit om met hulle hande te vat.

Ed Young, hoof uitvoerende bestuurder van die One Stop-groep, sê 17 412 sonpanele, wat gesamentlik 1.8 MW krag kan opwek, sal op die plaas geïnstalleer word. ’n Energiebergingseenheid van 2 900 kWh en ’n mikro-roosterverspreidingstelsel sal ook geïnstalleer word. Die Overysselsonplaas sal uiteindelik die grootte van nege rugbyvelde wees en na verwagting 3.4 miljoen kWh se elektrisiteit in ’n jaar kan opwek. Ongeveer 42 km se kabels sal in die proses aangelê word om te verseker dat Overyssel voldoende krag het.

“Teoreties sal genoeg krag dus opgewek word om sowat 400 huise van krag te voorsien,” sê Young.

Die Palala-rivier is Overyssel Boerdery se trots en beste bate. Dit is een van die skoonste in die land, aangesien geen groot menslike nedersettings of mynbedrywighede hoër op in dié rivier plaasvind nie.

’n Finansiële hupstoot

Die internasionale hernubare energiereus, Yellow Door Energy, behartig die finansiering van die projek. Dié maatskappy is ’n volhoubare energievennoot vir talle kommersiële en industriële besighede soos One Stop Energy, en het kliënte in die Midde-Ooste en Afrika. Die maatskappy se oplossings vir sonkrag en energiedoeltreffendheid stel besighede in staat om energiekoste te verminder, die betroubaarheid van krag te verbeter en koolstofvrystellings te verlaag.

Rory McCarthy, bedryfshoof van Yellow Door Energy, sê die Overysselprojek is die maatskappy se eerste Suid-Afrikaanse onderneming. “Dit is ’n voorreg om hierdie waterskeidingsprojek saam met Overyssel
Boerdery aan te pak. Die projek beloof om hierdie kommersiële plaas in staat te stel om hul energievoorsiening te verseker en hul veerkragtigheid te verbeter. Die projek is ook ‘n toonbeeld
van Yellow Door Energy se gewilligheid om Suid-Afrikaanse kommersiële nywerhede voortaan, deur ons koopkragooreenkomste, toegang tot kostedoeltreffende, lae-koolstof- en betroubare energievoorsiening te bied.”

Young sê Overyssel sal eers vir krag begin betaal as die sonpanele opgerig en funksioneel is. Volgens die koopkragooreenkoms sal One Stop Energy die sonkragplaas in stand hou en Overyssel sal slegs betaal vir
die krag wat gebruik word. Daar is ’n minimum hoeveelheid eenhede wat maandeliks gekoop móét word. Die goeie nuus is egter dat die tarief laer as Eskom se tariewe is.

Hans sê dit is ’n wonderlike vooruitsig dat hulle binnekort slegs vir krag sal betaal. Voorheen moes verskeie ander funksies soos lynhuur, transformatorhuur en energievoorkeur betaal word nog voor hulle ’n enkele ampère Eskom-krag gebruik het.

Overyssel produseer jaarliks sowat 22 500 ton aartappels. Aartappels en ander groente word op die plaas gewas, verpak en verwerk. Sonkrag sal binnekort ingespan word om ál Overyssel se bedrywighede aan te dryf.

Hernubare visie

Sodra die oorskakeling voltooi is, beoog die Van der Walt-broers om meer volhoubare bewaringslandboupraktyke in hul boerdery te vestig.

Terwyl Peet jr sy BSc Agric-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, was sy tweelingbroers, Hans en Francois, reeds besig om te boer. Die tweeling het gemerk dat gesonder plante opgelewer is op
grond waar minder kunsmis gestrooi is. Peet jr se bemestings- en nutriëntekennis gekombineer met Hans en Francois se praktiese ervaring, maak nou ‘n groot verskil. “Ons wil graag onafhanklik wees van eksterne kunsmis deur ons eie kompos te vervaardig.”

Die broers koop ’n gemynde poeier (diatomaceous earth) om hulle te help met pesbeheer en om die grondchemie te verminder. “Uiteindelik is ons doelwit om opbrengs te verhoog, maar op ’n meer organiese manier.”

Bosverdigting is ook ’n uitdaging. Soos wat indringerbosse uitgekap word, bied dit die geleentheid om biochar te vervaardig. Biochar is ’n houtskoolagtige stof wat vervaardig word deur die verbranding van organiese materiaal tydens ’n beheerde proses wat pirolise genoem word. Biochar is voordelig vir die omgewing, omdat dit gifstowwe kan verwyder en koolstof veilig berg.

Daar is ’n hele paar hektare sekelbos op die Van der Walts se grond. “Ons sal wil mettertyd die grond skoonmaak om nuwe lande te vestig. Die sekelbos, wat ’n indringerplant is, word dan in biochar omgesit en verkoop,” sê Hans.

Bosverdigting het in die Savannastreek plaasgevind omdat produsente in die verlede nie die natuur in ag geneem het nie. Grootwild soos koedoes en elande is verjaag en die versteuring in die biodiversiteit is een van die groot redes waarom indringerbosse al hoe meer oorgeneem het. Die Van der Walts se pogings werp reeds vrugte af en die drakapasiteit vir wild en vee het drasties verbeter.

Strategies onafhanklik

Selfs al het Suid-Afrikaanse munisipale markte agteruitgegaan, is dit steeds die beste markstelsel in die wêreld. “As jy produseer en jou produk by die mark gaan aflaai, sal jy iets daarvoor kry. Of dit nou R2 per sakkie of R200 per sakkie is – jy gaan iets kry,” sê Hans.

“Oor die jare het ons geleer dat ons nie op die staat kan steun om krag te voorsien of om ons paaie te onderhou nie. Ons wil dus so onafhanklik as moontlik wees,” sê Francois.

Wat bemarking aanbetref is Overyssel reeds minder afhanklik van die staat, omdat hulle direk aan die kleinhandel bemark. Handelaars ry van KwaZulu-Natal af om by Overyssel te koop. Francois droom daarvan om eendag ’n eie varsproduktemark in die provinsie te vestig.

“Dit sal nie net vir ons produkte wees nie. Ons produseer net nege maande van die jaar aartappels. In elk
geval, ons wil nie die enigste aartappelboere in die land wees nie. Daarom glo ons boere sal moet saamstaan as ons ’n beter toekoms wil hê.”

Nuwe geleenthede

Die Van der Walts wil graag aan stokperdjieboere aandele in ’n maatskappy bied waardeur hulle ’n stuk grond op Overyssel kan bekom.

“Dit is ’n pragtige deel van die plaas en is perfek vir mense wat smag na ’n grond-tot-mond leefstyl,” vertel Hans. Van die kleiner stukkies grond (1 ha) grens aan die Palala-rivier, terwyl ander groter stukke grond (3.5 ha) ’n ent weg van die rivier is. Aandeelhouers verkry toegang tot ’n gemeenskaplike rivierfront wat vir visvang, bootry en ander ontspanningsaktiwiteite ingespan kan word.

Hoewel die area reeds van krag voorsien word, glo die Van der Walts dit is ook ’n gulde geleentheid vir beleggers, aangesien die sekuriteit op die grond reeds goed is. – Susan Marais, Plaas Media

Vir meer besonderhede, kontak Hans van der Walt by hans.waterberg@gmail.com, of besoek www.waterbergboerdery.co.za

Posted in ,