Spandinamika onderskei dié boerdery van ander

Estimated reading time: 8 minutes

HP Smit en Seuns Boerdery is geleë naby Piketberg en Elandsbaai in die Wes-Kaap. Hierdie dinamiese onderneming is vroeër vanjaar tydens die jaarlikse Aartappels SA-kongres, as die Syngenta Nasionale Aartappelboer van die Jaar vir 2024 aangewys. Pierré Smit en sy seuns, Johan en Louw, boer saam op hul eie plase asook op huurgrond waar sowat 30% van hul totale produksie geproduseer word.

Lees meer hier oor die 2024 Agri Oos-Kaap Jongboer van die Jaar.

Die boerdery is ‘n 100% familiebesigheid. Pierré fokus veral op nuwe projekte en om doeltreffendheid regdeur die boerdery te verbeter. Johan is verantwoordelik vir die primêre produksie (plant en oes) van aartappels, en Louw vir die pakstore, bemarking en algemene bestuur.

Die boerdery se sukses kan toegeskryf word aan die feit dat hulle een visie het en as ’n span saamwerk. Hoewel elkeen ’n duidelik afgebakende taak het en in hul bane bly, ondersteun hulle mekaar en neem die span as geheel verantwoordelikheid vir dit wat op die plaas gebeur, verduidelik Pierré.

Al drie verstaan dat dit oor die boerdery gaan en nie oor persoonlike belang nie. “Daar is ’n groter doel. Ons belang is die besigheid en nie om onsself te verryk nie. Solank ons by hierdie prioriteit hou, sal dit goed gaan. Dit beteken nie ons mag nie verskil of argumenteer nie. Inteendeel, ons moet verskil,” sê Pierré.

Van links is Murray Thompson, voorsitter van Aartappels SA, saam met Johan, Pierré en
Louw Smit.

Twee produksiegebiede

Die familieplaas naby Piketberg, Riviera, is reeds sedert 1905 in die familie se besit. Hulle het tradisioneel met vee geboer. Pierré se pa het die eerste aartappels in die vroeë 1960’s geplant. In 1983 is 10 ha in die winter en 3 tot 4 ha in die somer geplant. Die koms van Eskom in 1978 en spilpunte in 1985, het die uitbreiding van hul aartappelproduksie versnel.

In 2009 is die boerdery uitgebrei met die aankoop van twee plase, Langdam en Taaiboschkraal, naby Elandsbaai aan die Weskus. Die temperature daar is aansienlik koeler as op Riviera en hul ander plase wat meer in die Sandveldse binneland geleë is. Die koeler temperature naby die kus maak dit moontlik om regdeur die jaar aartappels te verbou, anders as in die binneland waar die somertemperature te hoog is. “Ons het al in die somer op dieselfde dag 42°C op Riviera gemeet en net 24°C op Langdam,” sê Pierré.

Die boerdery funksioneer dus in twee produksiestreke: Die koeler kusgebied waar regdeur die jaar aartappels geplant en geoes word, en die warmer binneland waar aartappels net agt maande van die jaar verbou kan word. Elk van die streke het sy eie pakstoor.

Grootste uitdagings

Volgens Pierré is oorlewing die grootste uitdaging vir aartappelprodusente in die Sandveld. Die streek het die laagste potensiaal van die nege aartappelproduksiestreke in Suid-Afrika.

“In 1985 was daar meer as 130 aartappelprodusente in die streek. Nou is daar net 37 oor. Om te oorleef, moet ons doeltreffender boer as die gemiddelde produsent in die Sandveld. Die gehalte van ons aartappels en ons gemiddelde pryse moet ook beter as dié van die gemiddelde produsent in die streek wees. Jy kan dit net regkry as jy nuwe tegnologie benut om die beste gehalte te produseer, en deur alles te meet en data te versamel om te bepaal waar jy foute maak en om te beplan vir toekomstige aanplantings,” verduidelik Pierré.

Johan sê die grootste uitdaging uit ’n produksie-oogpunt is die tempo waarteen nuwe siektes en peste opduik. “As jy heeljaar aartappels verbou, is daar altyd ’n gasheer vir peste en plae. Jou bestuur moet goed wees om te verhoed dat siektes en plae opbou, en terselfdertyd te verseker dat daar nie weerstand teen chemiese middels opbou nie. Met chemiese bespuitings word verskeie faktore, soos siektedruk, weervoorspellings (weerstasies), en klimaatsomstandighede, in ag geneem voordat daar gespuit word. Skoon saad en die verwydering van ou plantreste wat ’n gasheer kan wees, is van die bestuurspraktyke wat toegepas word,” sê Johan.

Die grootste uitdaging aan die bemarkingskant, volgens Louw, is verbruikers en beleidsvormers se persepsie van die bedryf, die produk en die area waarin dit geproduseer word. Negatiewe persepsies moet reggestel word deur gesprekke met ander rolspelers en ingeligte uitsprake.

Volhoubaarheid is belangrik

Boerdery is ’n langtermyn besigheid en daarom is die verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne baie belangrik vir produsente. In die Wes-Kaap word byvoorbeeld goeie werk gedoen met die bewaring en gebruik van water, verduidelik Louw.

“Al die aartappels word onder spilpunt verbou met ’n streng rotasie om die opbou van grondgedraagde siektes en weerstandigheid teen chemiese middels te voorkom. Na vier jaar se aartappelverbouing onder ’n spilpunt, word ’n dekgewas vir drie jaar geplant om die grond te beskerm en organiese materiaal terug in die grond te sit. Die dekgewas moet nie ’n draer van siektes wees nie en moet ’n sterk wortelstelsel hê om onkruide mee te onderdruk,” sê Johan.

Die boerdery besef hulle kan nie aartappels die goedkoopste produseer as gevolg van die Sandveld se arm sandgronde nie. “Jy moet die voeding wat die plant nodig het vir hom gee, maar jy moet altyd in ag neem dat die voedingstowwe vinnig uitloog indien besproeiing nie reg gedoen word nie,” brei Johan uit.

“Ons besef water is ons grootste en belangrikste hulpbron; daarom moet elke druppel reg gebruik word. Nuwe tegnologie en beheermeganismes word gebruik om watervlakke in boorgate te monitor om volhoubaarheid te verseker. Deur middel van verantwoordelike waterbestuur verseker ons dat die water- en soutvlakke (elektriese geleidingsvermoë of EG-waarde) van die water dieselfde bly.”

Gehalte eerder as opbrengs

Hoewel opbrengs belangrik is om die boeke te laat klop, fokus die boerdery meer op gehalte. Hulle streef daarna om gemiddeld 50 ton/ha oor die hele jaar te oes. In die somer kan die opbrengs tot so hoog as 80 ton/ha wees, maar in die kouer wintermaande is dit dikwels minder as 40 ton/ha. Pierré sê prys en grootte speel ’n rol in die bepaling van ’n gelykbreekpunt. “Met ’n opbrengs van 50 ton/ha moet jy R5/kg kry om gelyk te breek,” sê hy.

HP Smit en Seuns Boerdery se bekende gestreepte aartappelsakkie is ’n waarborg van gehalte. Kopers is bereid om ’n premie vir die aartappels te bepaal, omdat hulle kan vertrou dat die boerdery net gehalte produkte na die mark stuur.

Louw sê een van hul belangrikste doelwitte is om elke dag goeie gehalte, vars aartappels aan die mark te lewer. “Met hierdie doelwit het ons oor jare ’n naam opgebou en is kopers bereid om meer te betaal vir ons handelsmerk. Ons mikpunt is om 10% bo die gemiddelde markprys te kry.”

Om goeie gehalte vanaf die land tot by die verbruiker te verseker, moet die aartappels dieselfde dag wat dit uitgehaal is, by die afsetpunt gelewer word. “Wat vandag geoes word, moet vanaand by die kleinhandelaar se verspreidingspunt of die Kaapse Varsproduktemark wees. Dit is slegs as die afsetpunt verder as 400 km is, dat lewering eers die daaropvolgende dag geskied,” verduidelik hy.

Ongeveer 68% van die totale oes word op varsproduktemarkte in sakkies van 7 en 10 kg bemark. Die res word direk aan kleinhandelaars gelewer (30%), terwyl 2 tot 3% uitgevoer word, ook direk aan kleinhandelaars.

Aanpasbaarheid is belangrik

Produsente moet gereeld aanpassings maak om die volhoubaarheid van hul boerderye te verseker. HP Smit Boerdery moes die afgelope vyf jaar twee groot aanpassings maak. Die eerste is groot beleggings in alternatiewe energie (sonkrag en batterye) as gevolg van kragonderbrekings wat groot verliese en ontwrigting in die produksie en verpakking van hul aartappels meegebring het.

Pierré sê die boerdery in geheel wek reeds 35% van sy energiebehoefte self op. Op Taaiboschkraal word 60% opgewek. Die energie word baie slim bestuur om die grootste voordeel te kry. Baie tyd word spandeer op ontwikkeling van eie sagteware wat die mees doeltreffende kragverbruik tussen Eskom en hul alternatiewe energiebronne verseker.

Hoewel kragonderbrekings nou baie minder is, bestaan die gemoedsrus nou dat voldoende krag voortdurend beskikbaar is. Hierdie gemoedsrus is belangrik, gegewe dat een van hul hoofdoelwitte is om deur die jaar goeie gehalte aartappels te produseer. Sonkrag is wel duur, maar die stelsel behoort homself binne ses jaar af te betaal. Boonop spring hulle ook die enorme stygings in elektrisiteitspryse tot ‘n groot mate vry.

Menslike hulpbronne

Die groei van die boerdery het meegebring dat hulle die tweede groot aanpassing moes maak, naamlik ‘n wegbeweeg van die fisiese werk op die plaas na die bestuur van mense. Die uitdaging was om ‘n span saam te stel wat die besigheid se produksie en gehalte kon handhaaf.

Die werkers is nou in spanne (bv. produksie of verpakking) opgedeel. Sodoende raak elkeen ‘n spesialis op sy gebied, ‘n situasie wat verskeie voordele inhou. Die boerdery meganiseer aansienlik, maar doen dit nie ten koste van die werkers nie. Meganisasie word eerder aangewend om werkers se vermoëns (produktiwiteit) te verbeter. Dieselfde hoeveelheid mense word nog in die boerderybesigheid gebruik, maar hulle het toegang tot gereedskap wat hulle meer doeltreffend maak.

’n Wakende oog

Hoewel hul pa nie meer by die alledaagse produksie- en verpakkingsaktiwiteite van die boerdery betrokke is nie, beskou die twee broers dit as ’n seën dat hul pa steeds op ‘n ander vlak sy bydrae maak. “Hy kyk van buite met ’n ander perspektief na die boerdery. Dit het ons al baie skade gespaar en sorg dat ons op die regte pad bly. Ons moet kritiek aanvaar waar dit tot voordeel van die boerdery is,” sluit hulle af. – Hugo Lochner, Plaas Media

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan louw@hpsmit.co.za of skakel 083 251 7076

Posted in ,