Dwayne Kaschula: Goeie oordeel lei tot goeie groei

Estimated reading time: 6 minutes

Dwayne Kaschula is ’n dinamiese 38-jarige produsent en besigheidsman wat voortdurend aanpas by sy veranderende omgewing. In 2024 is hy aangewys as Agri Oos-Kaap se Jongboer van die Jaar. Een van die belangrikste aspekte van sy boerdery by Maclear in die Oos-Kaap, is om eerstens die boerdery self te geniet en tweedens die resultate van sy pogings te geniet.

Alhoewel aartappels ’n goeie en relatief goedkoop bron van voedsel vir die verbruiker is, verg dit uitstekende produksiebestuur.
Alhoewel aartappels ’n goeie en relatief goedkoop bron van voedsel vir die verbruiker is, verg dit uitstekende produksiebestuur.

Sy plaas, Confluence, in die Maclear-distrik, het verskeie boerderyvertakkings wat mekaar aanvul. Behalwe vir die verbouing van aartappels virdie varsproduktemark, asook graan onder besproeiing en op droëlande, het hy ook eksotiese wild vir die teel- en jagmark, ’n Angus- en Brangusstoet, ’n Boerbokstoet en ’n lêhenvertakking wat eiers aan verskeie plaaslike markte verskaf.

Een van die goeie dinge van ’n boerdery, sê Dwayne, is dat elke seisoen letterlik ’n terugstelknoppie het. “Wanneer ons aartappels in die grond sit, doen ek en my span werkers alles moontlik om die proses na die beste van ons vermoë te bestuur ten einde die beste opbrengs en ’n gehalte produk te verseker.”

Nadat hy in 2006 met vee en mielies begin boer het, het hy in 2009 verder uitgebrei deur tafelaartappels as ’n kontantgewas by te voeg. “Ek het besef dat vee en mielies nie genoeg sou wees om vooruit te boer nie. Ons het toe spilpunte op die lande gesit, ’n aartappelwasser gekoop en ons eerste stoor opgesit.”

Optimale varsproduktemarkbestuur

Dwayne se aartappels is bestem vir die varsproduktemark. “Ons werk gewoonlik met groot volumes en baie van ons aartappels gaan na die plaaslike mark en na markagente in Oos-Londen, Gqeberha, Bloemfontein en Durban,” verduidelik hy. “Die aartappels word vir ongeveer ses tot sewe maande geoes, gewoonlik tussen Desember en in Junie of Julie. Dit is baie arbeidintensief en op hierdie stadium is dit die boerderyvertakking wat die meeste arbeid verg. Behalwe vir die permanente werknemers, maak ons ook gebruik van ongeveer 110 tydelike werknemers in die pakstoor en op die lande.”

Dwayne is ernstig oor vooruitbeplanning en om goeie bestuursbesluite te neem met die inligting tot sy beskikking.
Dwayne is ernstig oor vooruitbeplanning en om goeie bestuursbesluite te neem met die inligting tot sy beskikking.

Aartappels is ’n vars produk en dit wat vandag uit die grond gehaal word, moet dieselfde dag op ’n trok gelaai word en vroeg die volgende oggend by die varsproduktemark wees. Dwayne se teorie is, “vir elke dag wat ’n aartappel laat op die mark aankom, verloor jy as produsent tussen R3 en R5 per sakkie in gehalte”. Hoe langer ’n aartappel neem om op die winkelrakke te kom, hoe bruiner raak die skil, en hoe witter die aartappel is, hoe beter is die gehalte daarvan. Van die kultivars verkleur vinniger of stadiger en daar is baie faktore wat in ag geneem moet word.

Hitte en temperatuurskommelinge van die lande af na die stoor waar dit gewas word en in sakkies verpak word, speel ’n groot rol in die houvermoë van ’n aartappel. “Wanneer ons dus die aartappels in Desember begin uithaal, probeer ons maar altyd om in die middel van die dag klaar te maak op die lande, waarna die aartappels gewas kan word.”

Dwayne se kultivarkeuses is gebaseer op die wat volgens hom die beste in sy omgewing presteer – dit gaan uiteindelik oor voldoende opbrengste vanaf die lande. Elke kultivar word strategies geplant op grond van die beste eienskappe wat dit bied. Die hoofkultivars wat hulle verbou is Tyson, Sifra, Valor en Lanorma, en in kleiner maat ook Panamera en Mondial. Dwayne het in ’n stadium vir verskeie redes wegbeweeg van Mondial maar weet dat die kultivar ’n baie goeie premie in die Durbanomgewing verdien. Hy verkies ’n ronde aartappel wat makliker hanteer en was, en goed vertoon.

“Tyson is gewoonlik die eerste aanplanting wat vinnig produseer omdat die skil vinnig vorm. Ons mik gewoonlik om dit vir die Kersfeesmark gereed te kry. Die water waarmee ons besproei, kom uit die Potrivier wat in ’n dam ingepomp word en dan na die verskillende spilpunte op die lande versprei word.”

Dwayne se aartappelonderneming stel hom in staat om in ’n goeie seisoen waarde tot die gemeenskap toe te voeg, deurdat hy aartappels aan minderbevoorregte gemeenskappe skenk. (Foto: OVK Nuus)
Dwayne se aartappelonderneming stel hom in staat om in ’n goeie seisoen waarde tot die gemeenskap toe te voeg, deurdat hy aartappels aan minderbevoorregte gemeenskappe skenk. (Foto: OVK Nuus)

Wisselbou vermeerder opbrengste

Hy glo dat wisselbou ’n baie belangrike rol speel om die gehalte van grond op die lande te behou. “Aartappelplante benodig baie kunsmis wat help om die grond se gesondheid te verbeter. Wanneer die aartappels klaar geoes is, plant ons mielies wat met onkruiddoders behandel word. Die onkruiddoders verseker dat enige opslagaartappels wat in die grond agtergebly het, vernietig word.”

Onkruiddoderbehandeling moet vir minstens twee jaar na die aartappeloes volgehou word om die lande heeltemal skoon te kry van aartappels. Indien dit nie gedoen word nie, sal daar steeds aartappelplante in die grond wees wat siektes en swamme kan vermeerder, en die nodige rotasie sal dus nie plaasvind nie. “Vir elke jaar wat aartappels op aartappels geplant word, verlaag die gehalte daarvan en raak die weggooi-aartappels al hoe meer, wat die vertakking se winsgewendheid en volhoubaarheid negatief sal beïnvloed.”

Die spilpunte word optimaal benut. “Ons roteer die aartappels met mielie-aanplantings wat opgevolg word met gewasse soos kool, en dan plant ons weer aartappels in jaar vyf van die siklus.”

Wisselbou het natuurlik verskeie ander voordele en speel ‘n komplementerende rol in sy gediversifiseerde boerdery-opset: “Nadat ons aartappels in Augustus geplant het, oes ons dit in Desember. Daarna plant ons gedurende Januarie gars in dieselfde land, wat dan in Mei of Junie gesny, gebaal en as voer vir die beeste gebruik word.

“In Oktober, plant ons mielies in dieselfde land. In Februarie saai ons roggras tussen die mielies in en teen die tyd wat die mielies begin verdroog, groei die roggras goed. Ons stroop die mielies aan die begin van Mei en dan is daar gewoonlik lekker baie groenvoer vir die vee beskikbaar.” Hulle hou die roggras op die lande tot in September, waarna dit met ’n onkruiddoder gespuit word. Daarna, in Oktober, word daar weer mielies geplant. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Dwayne Kaschula by 083 465 8387 of epos drkfarming@gmail.com.

Posted in ,