Aartappel SA-projekte in die Sandveld en Oos-Kaap

Estimated reading time: 4 minutes

Aartappels SA het die afgelope jaar verskeie projekte in die Sandveld en Oos-Kaap geloods wat aartappelprodusente in staat stel om beter, meer ingeligte besluite te neem. Hierdie projekte sluit die hernuwing van die plantluisprojek in die Sandveld in, asook die oprigting van weerstasies in die Elliot-, Ugie- en Maclear-areas.

Al hierdie inisiatiewe is daarop gemik om produsente te ondersteun in hul daaglikse besluite en om die volhoubaarheid van die bedryf te bevorder.

Sandveld-plantluismonitering

Plantluismonitering in die Sandveld is een van die projekte wat vir jare al ‘n waardevolle hulpbron vir aartappelprodusente was. Deur weeklikse verslae oor die teenwoordigheid van verskillende plantluisspesies, was produsente nie net op hoogte van die vlak van besmetting op individuele plase nie, maar het ook ’n groter prentjie oor die hele Sandveldsituasie gekry. Hierdie weeklikse verslaggewing het produsente in staat gestel om beter besluite te neem oor wanneer en hoe om in te gryp, wat uiteindelik langtermyn produksie bevoordeel het.

n Herstelde plantluisval is ’n waardevolle
hulpbron vir die omgewing se aartappelprodusente.
n Herstelde plantluisval is ’n waardevolle hulpbron vir die omgewing se aartappelprodusente.

Sedert 2022 was daar geen verslae oor die voorkoms van plantluise in die Sandveld nie, maar Aartappels SA, in samewerking met Inteligro, het die projek op versoek van die Sandveld Aartappelkwekersorganisasie (Sako) hernu. Dit is met groot ondersteuning deur die plaaslike produsentegemeenskap en ander rolspelers dat die projek weer van stapel gestuur is. Die weeklikse data sal nou bymekaar gemaak word en na ‘n sentrale punt gestuur word, waar dit geanaliseer sal word om die spesies en hoeveelheid luise te identifiseer. Hierdie data sal dan vrylik aan alle produsente beskikbaar gestel word om hulle te help om die bedreiging wat plantluise inhou, betyds te bestuur.

Daar is vier moniteringstasies in die Sandveld, van Malmesbury tot in Leipoldtville, maar indien die aanvraag na meer inligting sou toeneem, sal moontlike verdere uitbreiding van die moniteringsnetwerk plaasvind.

Dit sal help om die plantluisdruk oor ’n groter gebied te monitor, wat aan produsente ’n kritieke voorsprong sal gee wat die beheer van die plaag betref. Die samewerking met Inteligro sal verseker dat akkurate en betroubare data versamel word.

Weerstasies in die Oos-Kaap

’n Ander belangrike projek wat in 2024 in die Elliot-, Ugie- en Maclear-areas van stapel gestuur is, is die oprigting van vyf weerstasies om siektevoorspelling en -bestuur in die aartappelbedryf te verbeter. Hierdie weerstasies, wat met sonkrag werk, word onderhou deur plaaslike produsente wat bereid was om betrokke te raak. Die projek behels samewerking tussen Aartappels SA, Villa wat die weerstasies voorsien het, Metos SA wat die bestuur, installasie, en sagteware hanteer en vooruitskattings doen, en die produsente wat die stasies op hul plase huisves.

’n Weerstasie wat deur Metos SA opgerig is.
’n Weerstasie wat deur Metos SA opgerig is.

Die weerstasies monitor belangrike omgewingsfaktore soos temperatuur, humiditeit en ander klimaatstoestande wat die ontwikkeling van aartappelsiektes kan bevorder. Die data wat versamel word sal ’n sleutelrol speel in die voorspelling van moontlike siekte-uitbrekings en die implementering van proaktiewe maatreëls.

Hierdie inligting sal beskikbaar wees vir alle produsente wat by die projek betrokke is, en sal hulle help om gesamentlik die regte beheermaatreëls in plek te stel voordat ’n siekte-uitbreking plaasvind.

Namate die weerstasies langer werk, sal hulle meer akkurate voorspellings kan maak. Dit sal produsente help om langtermyn besluite oor planttyd, besproeiing en siektebeheer te neem. Die tegnologie en data wat die stasies verskaf, sal ’n waardevolle hulpbron wees vir die volhoubaarheid van die aartappelbedryf in die Oos-Kaap.

Proewe en kultivarontwikkeling

Nog ’n belangrike fokus van Aartappels SA is die ontwikkeling van aartappelkultivars, veral in die Ugie-omgewing. Proewe word in samewerking met aartappelprodusente en saadverskaffers aangeplant om die beste kultivars vir verskillende klimaats- en grondtoestande te identifiseer.

Die doel van hierdie proewe is om nuwe variëteite te ontwikkel wat nie net siektebestand is nie, maar ook beter opbrengste en gehalte onder die spesifieke toestande kan lewer.

Dit is belangrik dat die aartappelbedryf nie afhanklik is van slegs bestaande variëteite nie, maar dat nuwe variëteite voortdurend getoets en verbeter word. Hierdie proewe is dus noodsaaklik om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker en produsente die geleentheid te bied om die beste moontlike kultivars vir hulle omgewings te kies.

Samewerking en volhoubaarheid

As streekskoördineerder wil ek my dank uitspreek vir die ondersteuning wat ek in my eerste jaar by Aartappels SA ontvang het, en alle rolspelers bedank vir hulle bydrae tot die sukses van hierdie projekte. Deur samewerking kan ons meer akkurate en volhoubare inligting verskaf, en produsente help om beter besluite te neem vir ‘n volhoubare bedryf. Die toekoms lyk belowend. – Francois Strauss, Aartappels SA

Vir meer inligting, kontak Francois Strauss by francois@potatoes.co.za.