Estimated reading time: 8 minutes
Die Wes-Vrystaat is ’n groot aartappelproduksiestreek waar 30 produsente aartappels op ongeveer 6 990 ha produseer. Die mees prominente kultivars wat geproduseer word (ongeveer 6% verwerking, 67% moere, 27% tafelaartappels, meestal onder besproeiing) is Sifra (34%), Panamera (31%) en Mondial (17%).
Kroonstad val in Suid-Afrika se somerreënvalgebied (Figuur 1) en ontvang die afgelope drie jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 820 mm vanaf Januarie tot Desember, soos gemeet by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Geluk-weerstasie. Die matige klimaat van die streek sluit baie warm somers (die warmste in Desember/Januarie) tot koue winters in met ryp wat vanaf April kan voorkom.
Die Kroonstad-kultivarproef is in sandleemgrond uitgevoer en in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting rakende die proef.
Groeitydperke
Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort- en langgroeitydperke; derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.
Tabel 2 bied ‘n uiteensetting van hoe groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Omgewingsfaktore en bestuurspraktyke beïnvloed ook die verskillende groeifases en die tyd wanneer dit ‘n aanvang neem. Die ideale praktyk sou wees om kultivars te oes wanneer dit oesgereed is, maar dit is nie prakties wanneer die proef op ’n kommersiële plaas uitgevoer word nie.
Die stand en aantal halms per moer beïnvloed knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivarafhanklik en bepaal die aantal spruite wat per knol voortgebring word.
In hierdie opsig is die plantgereedheid van moere baie belangrik, aangesien die ideale plantgereedheid gewoonlik meebring dat moere beter spruit en meer stamme per spruit voortbring.
Die plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as die standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 2 aangedui.
Opbrengsgemiddeldes
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Kroonstad-kultivarproef, verskaf resultate rakende, onder andere, die opbrengs- en bemarkingsindeks. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar te klas en sorteer volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld: Klas 1 Groot of Klas 2 Groot-medium). In hierdie proef word al drie herhalings deur die pakstoor geklas en sorteer.
Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos verkry ten tyde van oes. Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Abiotiese faktore
Soos met enige gewas is temperature, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), sowel as hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike daaglikse en langtermynweerdata word verkry vanaf ’n Hortec-weerstasie naby die proefperseel, sowel as ’n gekose LNR-weerstasie wat so na as moontlik aan die proefperseel geleë is.
Die reënvaltendens vir die 2023-seisoen toon ’n laer (as normale langtermyn gemiddelde) reënval. Januarie het buitengewoon lae reënval ontvang (Figuur 2). Aan die einde van die groeitydperk in Mei, is bogemiddelde reënval weer aangeteken.
Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit.
Dae met winterstemperature onder vriespunt is vanaf begin Mei tot einde Augustus aangeteken. Matige maksimumtemperature is deur die seisoen ervaar met geen dae met temperature bo 35°C wat aangeteken is nie.
Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n plant. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir die kultivarproef van hierdie betrokke seisoen blyk aansienlik hoër te wees as die tendens rakende langtermyndata van hitte-eenhede (Figuur 4).
Opbrengsindeks
Opbrengsdata versamel tydens oesdag word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (15.6%).
Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.
Die opbrengs van elkeen van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel (die proefgemiddeld van al die kultivars word as 100% geneem). Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2023-seisoen is 29.13 t/ha, wat ietwat laer is as die proefgemiddeld van 36 t/ha wat vanaf 2018 tot 2020 aangeteken is.
Palace en Prince het die hoogste opbrengs gelewer (Figuur 5). Palace en Prince sowel as Panamera het die hoogste bemarkingsindekse behaal – dit kan toegeskryf word aan ’n goeie opbrengs van Groot sowel as Klas 1-knolle. Groottegroepverspreiding en gradering is die evaluasies wat uitgevoer word om die kultivars se bemarkbaarheid te bepaal (Figure 6 en 7).
Afgradering en gehalte
Die hoofredes vir afgradering was aansienlike bruin- sowel as silwerskurf. Die proefperseel was onderwerp aan ’n ontsettende hoë bruinskurfdruk en die skade was deurgaans groot, met die uitsondering van slegs enkele kultivars.
Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente prestasie van kultivars oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Mondial, Lanorma en Panamera toon tans die minste variasie vir die Kroonstad-proef van 2018 tot 2023 (Figuur 8).
Laastens, wanneer daar gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Geen kultivars het holhart of interne bruinvlek getoon nie. Om te voldoen aan prosesseringsvereistes, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 4). Alverstone, Russet, Amony, CMK2015, Palace en Prince het voldoen aan beide die SG- en skyfiekleurvereistes. Die meeste kultivars het aan die korrekte skyfiekleurvereiste voldoen. . – Enrike Verster, Anjé Erasmus en Laryssa van der Merwe, Aartappels SA en Fanus van Zyl, Aartappelnetwerk Suid-Afrika
Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerkers, sowel as die proefdeelnemers en die Wes-Vrystaat werkgroep. Vir meer inligting, kontak Enrike Verster by enrike@potatoes.co.za, Anjé Erasmus by anje@potatoes.co.za of Laryssa van der Merwe by laryssa@potatoes.co.za.