Wes-Vrystaatse kultivarproef onder besproeiing op Bultfontein in 2023

Estimated reading time: 8 minutes

Die Wes-Vrystaat is ’n groot aartappelproduksiestreek waar 40 produsente sowat 14% van die land se aartappels op ongeveer 7 372 ha produseer. Die mees prominente kultivars wat hier vir kommersiële verbruik (tafel- en verwerkingsaartappels) geproduseer word, is Mondial (33%), Sifra (39%) en Lanorma (18%).

Bultfontein val in Suid-Afrika se somerreënvalgebied (Figuur 1) en het vir die afgelope 23 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van ongeveer 580 mm ontvang. Die streek se matige klimaat sluit baie warm somers in (die warmste in Desember en/of Januarie) tot koue winters met ryp wat vanaf April tot Augustus kan voorkom.

Die Bultfontein-kultivarproef is uitgevoer in sandleemgrond en die proef is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. In Tabel 1 word relevante tegniese inligting rakende die proef verskaf.

Groeitydperke

Ingesluit in die proef is kultivars met kort tot lang groeitydperke. Derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.

Tabel 2 toon hoedat groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Omgewingsfaktore en bestuurspraktyke beïnvloed ook die verskillende groeifases en wanneer dit ‘n aanvang neem.

Stand en aantal halms per moer beïnvloed knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivarafhanklik en bepaal die hoeveelheid spruite wat per knol voortgebring kan word. Plantgereedheid van moere is baie belangrik in hierdie verband, aangesien moere wat plantgereed is gewoonlik aanleiding gee tot moere wat beter spruit en per kultivar die ideale aantal stamme per spruit voortbring, eerder as knolle wat nog nie plantgereed is nie.

Moere wat te oud is vorm baie stingels en klein knolle. Die plantgereedheid van moere ten tye van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 2 aangedui.

Opbrengs- en bemarkingsindeks

Die evaluering van kultivars soos in die Bultfontein-kultivarproef, verskaf resultate oor onder meer die opbrengs- en bemarkingsindeks. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar te klas en sorteer volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 Groot of Klas 2 Groot-medium).

In hierdie proef is al drie herhalings bymekaargegooi en deur die pakstoor geklas en sorteer. Dienooreenkomstige prysvergelykings is dan gemaak met markpryse soos verkry ten tye van oes. Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Abiotiese faktore

Soos met enige gewas is temperatuur, die beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), sowel as hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed uitoefen gedurende die aartappelplant se groeitydperk. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike daaglikse- en langtermynweerdata is verkry vanaf ’n Hortec-weerstasie wat naby die proefperseel geleë is, asook die naaste Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie.

Besproeiing is toegepas in hierdie kultivarproef

Gedurende die 2023-seisoen is oor die algemeen ondergemiddelde reënval ervaar (Figuur 2). Gedurende Februarie, in die maand na plant, sowel as Mei, aan die einde van die groeitydperk, is bogemiddelde reënval egter ontvang. Stamvrot is gedurende stand- en halmtelling in die proef in sommige kultivars opgemerk. Die bogemiddelde reënval nader aan die einde van die groeityd, kan waarskynlik gehalteprobleme soos misvorming verklaar.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Groot fluktuasies is deurgaans in veral maksimumtemperature aangeteken. Temperature onder vriespunt het in 2023 nader aan einde Mei voorgekom en, daarmee saam, natuurlike loofafsterwe.

Hitte-eenhede

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n plant. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir die kultivarproef van die betrokke seisoen, blyk deurgaans bo die langtermyndatatendens te wees vir die seisoen as geheel (Figuur 4).

Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel is, word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille is gebruik om die gemiddelde te skei.

Die kultivareffek gedurende die betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (12.2%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is. Die opbrengs van elke kultivar word deur die proefgemiddeld gedeel (die proefgemiddeld van al die kultivars word as 100% geneem). Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Evaluasie van opbrengs

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2023-seisoen is 51.28 t/ha. Dit is baie soortgelyk aan die afgelope vyf seisoene se gemiddelde opbrengs van 50.8 t/ha. Die kultivars Palace, Lilly, Mondial en Allison het statisties die hoogste opbrengste gelewer. Dieselfde kultivars het ook die hoogste bemarkingsindeks behaal – dit kan toegeskryf word aan baie goeie opbrengs in Groot- en Klas 1-knolle (Figure 5, 6 en 7).

Groottegroepverspreiding en gradering is onontbeerlike evaluasies wanneer gekyk word na ’n kultivar se bemarkbaarheid. Die hoofredes vir afgradering van elke kultivar (Tabel 3) asook interne kwaliteit is alles belangrike faktore en moet dus ook geëvalueer word.

Motskade, silwerskurf en swartspikkel en relatiewe lae soortlike gewig (SG), soos aangeteken in hierdie proef, is probleme wat kan intree wanneer knolle so lank onder die grond lê voor uithaal. Volgens die beskikbare weerdata is meer hitte-eenhede aangeteken oor die wintermaande as die langtermyngemiddeld, wat moontlik bygedra het tot hoër motdruk op die aartappels wat onder die grond lê. Interne defekte in die vorm van holhart is in drie van die kultivars aangeteken.

Die prestasie van kultivars wissel van seisoen tot seisoen. Dit is omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende eenvoudig nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Sifra toon tans die minste variasie vir die Bultfontein-area oor die laaste drie asook vyf seisoene (Figuur 8 en 9).

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan kook- en prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om te voldoen aan prosesseringsvereistes, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n SG van ≥1.075 voldoen. Sewentien uit 20 kultivars het voldoen aan die voorgeskrewe skyfiekleur, maar slegs CMK2015 en Kelly het voldoen aan die voorgeskrewe SG sowel as skyfiekleur (Tabel 4). – Enrike Verster, Anjé Erasmus en Laryssa van der Merwe, Aartappels SA, en Izak Cronjé, produsent

Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerker, sowel as die proefdeelnemers en Wes-Vrystaat Aartappelwerkgroep. Vir navrae, kontak Enrike Verster by enrike@potatoes.co.za, Anjé Erasmus by anje@potatoes.co.za of Laryssa van der Merwe by laryssa@potatoes.co.za.