Estimated reading time: 4 minutes
Die pepper ringspot-virus (PepRSV) is vanjaar in verskeie aartappelproduksiegebiede waargeneem, insluitend Limpopo, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Noord-Kaap. Die Landbounavorsingsraad (LNR) se Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming by Roodeplaat, onderneem tans ’n landswye opname om die verspreiding van die virus te bepaal.
Die teenwoordigheid van die siekte is in die Januarie/Februarie 2023-uitgawe van CHIPS aangemeld toe die Onafhanklike Sertifiseringsraad vir Aartappelmoere in samewerking met Aartappels SA, die Suid-Afrikaanse Aartappelsertifiseringsdienste, LNR, Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming (DALRRD), Plantovita en PathSol, die teenwoordigheid van PepRSV bevestig het.
Alhoewel die PepRSV-simptome reeds in die verlede waargeneem is, is dit eers in 2020 bevestig. Die siekte is ook vanjaar deur dr David Read van die Universiteit van Pretoria se Instituut vir Voedsel- en Landboubiotegnologie op sonneblom aangemeld.
Wat veroorsaak pepper ringspot?
PepRSV is een van drie virusspesies in die tobravirus-genus. Dit is nou verwant aan die tabakratelvirus (TRV) en pea early-browning virus, beide virusse wat nie in Suid-Afrika voorkom nie.
Simptome
PepRSV is op die blare sigbaar as ’n vergeling (Foto 1c) sowel as op die knolle met ringvlekke en simptome wat gepaard gaan met interne verbruining (Foto 1d). In baie gevalle kan die siekte ook voorkom as ’n simptoomlose, latente infeksie. Foto 1d toon ’n knol met erge simptome, maar die voorkoms van hierdie mate van simptome is uiters skaars. Die meeste knolle is simptoomloos of toon slegs ’n klein mate van bruin kolle of ringagtige vlekke.
Verspreiding
Die PepRSV-virus is in die 1960’s in Brasilië aangeteken en daarna in 2020 in Suid-Afrika. Sy teenwoordigheid in ander dele van die wêreld is onbekend. Verspreidingsmetodes vir tobravirusse sluit in meganiese verspreiding deur saad en stuifmeel op gewasse soos tamaties, rissies en verskeie aalwurmspesies in verskillende dele van die wêreld. Implemente kan ook die virus versprei.
Navorsing toon dat tobravirusse deur die stompwortel-aalwurm (stubby root nematode of Nanidorus minor) kan versprei. In die geval van PepRSV moet dit egter nog bevestig word. Hierdie evaluasies word ook tans deur die LNR behartig, maar aangesien dit uiters moeilik is om die aalwurms in kolonies te vermeerder met die oog op oordragstoetse, gaan dit nog ’n tydjie neem voordat die resultate beskikbaar is.
Gasheerreeks
Daar is ’n wye gasheerreeks waarop die virus kan voorkom en dit kan soms ook latent teenwoordig wees. Gasheerplante waarop PepRSV wel aangemeld is sluit in knapsekêrel (Bidens pilosa), Chenopodium amaranticolor, Nicotiana clevelandii, tabak (Nicotiana tabacum), bone (Phaseolus vulgaris), ertjies (Pisum sativum), tamaties (Lycopersicon esculentum), rissies (Capsicum spp.) en fababone (Vicia faba).
Die rol van wetgewing
Dit is belangrik om te beklemtoon dat die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet 36 van 1983) ontwikkel is om die verspreiding van nuwe siektes te bekamp. Dit word deur DALRRD se Direktoraat Plantgesondheidsdienste bestuur. Hulle is verantwoordelik daarvoor om ’n besmette perseel waar ’n nuwe siekte teenwoordig is, onder kwarantyn te plaas om die verspreiding te beperk. Hierdie geld ook tans vir PepRV-insidente.
Beheer
Omdat dit onmoontlik is om virussiektes met gewasbeskermingsprodukte te beheer, moet die verspreiding daarvan beperk word. Daar is tans nog nie duidelikheid of PepRV deur aalwurms versprei kan word nie. Dit maak egter sin om ’n aalwurmbeheerstrategie te implementeer. Omdat die virus deur plantmateriaal versprei kan word, is dit sinvol om verskillende kultivars van verskillende saadbronne aan te plant om die risiko van saadbesmetting te verminder.
Daar is geen bekende nadelige effek op die verbruiker aangemeld nie; dus is besmette aartappels geskik vir gebruik. As die siekte wel teenwoordig is, kan die volgende maatreëls toegepas word:
- Meld die teenwoordigheid van simptome by die Direktoraat Plantgesondheid aan by epos phytomatters@dalrrd.gov.za.
- Besmette saad mag nie vir saaddoeleindes aangewend word nie. Die geleentheid bestaan dus om besmette saad te bemark, mits bewys kan word dat dit nie as saadaartappels verkoop kan word nie. Die aanbeveling is dus dat saad vir verwerkingsdoeleindes bemark word.
- Om verspreiding deur die aanplant van plantmateriaal te voorkom, mag besmette saad nie bemark word nie.
- Dit word aanbeveel dat besmette aartappels met ’n anti-uitloopmiddel behandel word. Die produk met die aktiewe bestanddeel, chloorprofam (Reg No: L 6467), is ingevolge die Wet op Kunsmis, Veevoere, Landboumiddels en Veemedisyne, 1947 (Wet 36 van 1947) geregistreer en word deur ’n geregistreerde plaagbeheeroperateur toegedien. – Dirk Uys, Aartappels SA, en dr Lindy Esterhuizen, Landbounavorsingsraad
Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n epos aan Dirk Uys by dirk@potatoes.co.za of dr Lindy Esterhuizen by esterhuizenl@arc.agric.za.