Belê veilig én met goeie groei

Estimated reading time: 7 minutes

Verskeie faktore speel ’n bepalende rol in ’n veeprodusent se besluit om kapitaal binne of buite sy boerdery te belê. Drie faktore wat dikwels ’n belegger se besluit kan beïnvloed, is kennis, vrees en gierigheid.

Ernes Stander, finansiële en beleggingspesialis by Boerfin, sê vrees kan ’n mens in lae-rente, veilige beleggings hou en sodoende die weg tot goeie groei blokkeer. Aan die ander kant kan gierigheid jou ’n teiken maak vir bedrogskemas en ‘te goed om waar te wees’-beleggings wat dikwels op sosiale media aangebied word.

’n Betroubare en kundige raadgewer kan die boer help. Die sukses van enige belegging word bepaal deur ‘n goeie begrip vir die risiko’s, koste, terme, belastingimplikasies en likiditeit van die spesifieke belegging. Kennis stel jou in staat om ingeligte en gebalanseerde besluite te neem wat jou beleggingswêreld kan uitbrei sonder om onnodige risiko’s aan te gaan.

Verwagte opbrengs

Wanneer ’n produsent besluit om binne of buite sy boerdery te belê, is daar verskeie maatstawwe wat hy in ag kan neem. Een van die belangrikste is die verwagte opbrengs op belegging. Dit is noodsaaklik om die potensiële opbrengs binne die boerdery met die verwagte opbrengs buite die boerdery te vergelyk, en te bepaal of die belegging binne die boerdery beter sal wees vir die groei en volhoubaarheid van die plaas.

Maatstawwe om in ag te neem:

  • Familie-oorname: As die plaas uiteindelik aan familie oorgedra gaan word, kan herbelegging in die boerdery om langtermyn lewensvatbaarheid te verseker ’n prioriteit wees.
  • Aftreebeplanning: As die produsent nader aan aftrede is, kan buitebeleggings help om ’n neseier te skep.
  • Risiko en diversifikasie: Die produsent moet oorweeg of dit nie dalk sinvol is om sy risiko te versprei deur buite die boerdery te belê nie. Belegging in ander sektore, soos aandele, eiendom of private aandele, kan meer diversifikasie bied en die risiko’s van afhanklikheid van die landboubedryf verminder.
  • Potensiële groei: As daar groeigeleenthede binne die boerdery is, soos die aankoop van moderne toerusting of die uitbreiding van produksie, kan dit ’n beter belegging wees om binne die boerdery te belê. Indien die landboubedryf egter onvoorspelbaar is of ander sektore hoër opbrengste bied, kan dit meer sin maak om buite die boerdery te belê.
  • Opbrengs op langtermyn teenoor korttermyn beleggings: Beleggings binne die boerdery, soos die koop van nuwe werktuie of grond, kan dikwels vir ’n langer tydperk voordeel inhou, terwyl beleggings buite die boerdery dalk vinniger opbrengste kan lewer.
  • ’n Kombinasie van herbelegging in die boerdery en die verkenning van buitebeleggings kan ook ’n gebalanseerde benadering wees wat groei en sekuriteit bied.

Oor die algemeen moet die landbouprodusent ’n balans vind tussen die risiko van ’n beleggingsgeleentheid binne die boerdery en die potensiaal om sy portefeulje te diversifiseer deur buite die boerdery te belê.

Die JSE se prestasie

Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) het oor die jare een van Suid-Afrika se bateklasse geword wat die beste presteer. Daar is verskeie maniere om op die JSE te belê, van spekulatiewe beleggings (wat ’n baie hoë risiko dra) tot meer konserwatiewe benaderings soos om aandele in die top 40 genoteerde maatskappye as ’n bondel aan te koop en dit oor die langtermyn teen ’n medium risiko te hou.

Die Satrix Top 40, wat die prestasie van die grootste maatskappye op die JSE volg, het oor die afgelope tien jaar ’n gemiddelde jaarlikse groei van ongeveer 7 tot 10% gelewer, hoewel dié syfer weens marktoestande en die ekonomiese siklusse kan wissel.

Wanneer ’n mens in die JSE belê, is dit belangrik om bewus te wees van die onbestendigheid van plaaslike sowel as wêreldmarkte.

Die wêreldekonomie, en spesifiek ontwikkelende markte soos Suid-Afrika, kan groot skommelinge ervaar, wat aandelepryse vinnig kan beïnvloed. ’n Groot risiko is dat ’n mens dalk gedwing kan wees om jou belegging tydens ’n laagtepunt in die mark op te eis, wat ’n verlies kan beteken.

’n Belangrike faktor om te oorweeg voordat ’n produsent in die plaaslike mark belê, is die feit dat die JSE kleiner word. Die afgelope paar jaar het meer maatskappye van die JSE gedenoteer as wat nuwe maatskappye genoteer het. Hierdie afname beteken dat daar minder keuses vir beleggers en ook minder diversifikasiegeleenthede binne die plaaslike mark is.

Boonop vorm die Suid-Afrikaanse ekonomie minder as 1% van die wêreldekonomie, en die krimpende aantal genoteerde maatskappye maak ons mark selfs kleiner in wêreldterme.

Hierdie beperkte blootstelling aan verskillende sektore en maatskappye kan ’n risiko inhou vir beleggers wat hul portefeuljes wil diversifiseer, aangesien die keuse tot ’n kleiner aantal maatskappye beperk word.

Hoewel die JSE steeds waarde bied, is dit belangrik om hierdie faktore in gedagte te hou en realisties te wees oor die beperkings en risiko’s verbonde aan plaaslike aandelebeleggings.

Diversifikasie en wêreldmarkte

Belegging in wêreldmarkte bied aan Suid-Afrikaanse beleggers ’n groter geleentheid op diversifikasie, wat help om risiko te versprei en potensiële opbrengste te verbeter. Terwyl die JSE beperk is in grootte en sektorale verspreiding, bied internasionale markte toegang tot ’n wyer reeks sektore en markleiers in tegnologie, gesondheidsorg en energie, wat minder geredelik op die JSE beskikbaar is.

Daarbenewens bied buitelandse beleggings groter bestendigheid in terme van buitelandse valuta. Deur in stabiele geldeenhede soos die Amerikaanse dollar of euro te belê, kan Suid-Afrikaners hulself teen die wisselvalligheid van die rand beskerm. Hierdie forex-bestendigheid kan die koopkrag van ’n belegger behou, selfs wanneer die rand verswak, wat ’n beduidende voordeel is in ’n onbestendige plaaslike ekonomiese omgewing. Kortom, beleggings op wêreldmarkte help om ’n portefeulje sterker en veerkragtiger te maak.

Daar is drie aspekte om in gedagte te hou voor ’n belegging op wêreldmarkte gemaak word:

  • Belastingimplikasies: Suid-Afrikaanse beleggers moet die belastingverpligtinge op buitelandse beleggings oorweeg. Dit sluit kapitaalwinsbelasting en inkomste uit dividende in, wat volgens Suid-Afrikaanse belastingwetgewing op buitelandse opbrengste van toepassing is. Daar kan ook internasionale bronbelasting wees wat op inkomste van buitelandse beleggings gehef word.
  • Boedelbeplanning: Belegging in internasionale markte kan jou boedelbeplanning beïnvloed. Verskeie lande het hul eie erfregulasies, en sommige, soos Amerika, hef ekstra boedelbelasting op buitelanders wat daar belê het. Dit is belangrik om jou beleggings so saam te stel dat jy sulke uitdagings vermy.
  • Kontantlikiditeit: Buitelandse beleggings kan minder vloeibaar wees as plaaslike beleggings, afhangende van die tipe belegging en marktoestande. In tye van nood kan dit langer neem om dié geld te kry. Maak seker daar is ’n balans tussen likiditeit en langtermyn groei in ’n buitelandse belegging.

Met die JSE wat aanhou krimp, word privaat aandele ’n aantreklike en gewilde alternatief vir Suid-Afrikaanse beleggers. Al hoe meer beleggingsmaatskappye verskuif hul fokus van genoteerde aandele na ‘n belegging in maatskappye en projekte wat nie op die JSE genoteer is nie. Hierdie privaat aandele-beleggings bied diversiteit ten opsigte van grootte, vorm en risikoprofiel, wat beteken dat beleggers opsies het wat beter aanpas by hul unieke beleggingsdoelwitte en risikovlakke.

Oorwegings by privaat aandele

In Suid-Afrika fokus fondsbestuurders van privaat aandele dikwels op beleggingsgeleenthede wat ’n positiewe impak op die ekonomie en omgewing het. Voorbeelde sluit in sonkragprojekte wat energieonafhanklikheid ondersteun; voerkrale wat voedselsekerheid bevorder; byekorwe wat biodiversiteit ondersteun; en vertikale boerderye wat help om volhoubare voedselproduksie in stedelike gebiede te verseker.

Hierdie projekte bied aan beleggers die geleentheid om waarde te genereer buite die beperkings van die JSE, terwyl hulle ook ’n positiewe bydrae maak. Die gemiddelde verwagte groei is van 12 tot 18% per jaar.

Drie belangrike aspekte wat oorweeg moet word voor in privaat aandele belê word, is:

  • Registrasie en regulasies: Dit is noodsaaklik om te verseker dat die beleggingshuis waarmee jy werk, geregistreer is by die Finansiële Sektor Gedragsowerheid (FSCA) onder die Kategorie 2 Private Aandele-lisensie. Hierdie lisensie beteken dat die instansie aan spesifieke regulatoriese vereistes voldoen en ’n struktuur het om beleggings doeltreffend en deursigtig te bestuur. Belegging in ’n ongereguleerde entiteit kan jou blootstel aan hoër risiko’s.
  • Beleggingsfooie: Privaat aandele het dikwels hoër administrasie- en bestuursfooie as tradisionele beleggings. Dit is belangrik om ’n volledige begrip te hê van die struktuur van hierdie fooie, wat dikwels uit bestuursfooie en ’n prestasiefooi bestaan. Die prestasiefooi word bereken op grond van die opbrengs wat bo ’n sekere drempel bereik word.
  • Kontantlikiditeit en uitbetalingstydperk: ‘n Belegging in privaat aandele is minder likied as beursgenoteerde aandele, en dit kan soms jare neem voordat ’n belegger enige opbrengs sien. Die fondse is tipies vir ’n lang tydperk vasgestel, en die kans om vroeg uit te tree is beperk.

In alle gevalle is dit raadsaam om saam met ’n kundige raadgewer te werk wat ’n grondige kennis van beleggings het, sê Stander. – Andries Gouws, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Ernes Stander by 071 890 6371 of ernes@boerfin.co.za.

Posted in ,